Die Europese Raad moet nie met die Raad van die Europese Unie verwar nie. Die laaste instelling word ook die Raad van Ministers genoem en bestaan uit 'n wisselende keuse uit nasionale ministers wat 'n bepaalde werkgebied verteenwoordig en Europese wetgewing op hierdie gebied voorberei. Hulle het amptelik 'n wetgewende taak in teenstelling tot die Europese Raad wat slegs die breër raamwerk vir Europese eenwording verskaf.
Geskiedenis
Tot en met 1973 is daar deur die hoogste ampsdraers van die Europese Gemeenskappe spitsberade oor die toekoms van Europa gehou wanneer hulle dit nodig geag het. Die Europese Raad is tydens 'n byeenkoms in Parys in Desember 1974 (waarvan die Franse president Valéry Giscard d'Estaign die voorsitter van was) gestig, welke voortaan reëlmatig byeen sou kom. Op 11 Maart 1975 word die eerste vergadering van die Europese Raad in Dublin gehou. Aanvanklik vergader die raad twee keer per jaar; en sedert 1996 vier keer per jaar. Sedert Oktober 2003 word alle sittings in Brussel gehou. Die staat wat die voorbereidings van die agenda van die Raad van Ministers uitvoer, wissel twee keer per jaar, en tot 2009 is die staats- of regeringsleier van dié land outomaties ook die Europese Raad se voorsitter. Die laaste wisselende voorsitter was Fredrik Reinfeldt, die eerste minister van Swede, te wete die land wat in die tweede helfte van 2009 die roterende voorsitterskap beklee het. Sedert 2009 is daar egter 'n permanente president van die Raad, hoewel die land wat die voorbereidings vir die Raad van Ministers tref steeds twee keer per jaar wissel.[3]