Hy is gebore in Slangerup, Denemarke. Tydens die bewind van sy halfbroer Knoet IV van Denemarke het hy hom ywerig ondersteun. Hy het egter op die koninklike plaas gebly toe Knoet na Odense gereis het waar hy vermoor is. Ná sy dood het Erik gevlug. Olaf is gekies as koning van Denemarke, maar hy het net ’n kort rukkie regeer. Daarna is Erik as koning gekies.
Bewind
Erik was gewild onder sy onderdane en die droogtes tydens Olaf se dood het gewyk. Baie het dit gesien as ’n teken van God dat Erik die regte koning vir Denemarke was.
Hy was ’n luidrugtige man wat gehou het van partytjies. Hy was ’n sterk ondersteuner van koninklike mag, maar was ’n goeie diplomaat wat enige botsings met die boere vermy het. Hy het hardhandig opgetree teenoor diewe en seerowers.
In 1103 het hy aangekondig dat hy op ’n pelgrimstog na Israel vertrek. Hy het sy seun Harald Kejsa aangewys as regent. Erik en sy vrou het saam met ’n groot geselskap deur Rusland na Konstantinopel gereis waar hy ’n gas van die keiser was. Terwyl hy daar was, het hy siek geword, maar in elk geval na Ciprus vertrek. Hy is op 10 Julie 1103 in Paphos, Ciprus, dood en die koningin het hom daar laat begrawe. Hy was die eerste koning wat op ’n pelgrimstog gegaan het nadat Jerusalem tydens die Eerste Kruistog verower is.[5] Koningin Boedil het ook siek geword en sy is in Jerusalem dood.
Kinders
Erik en Boedil het een wettige seun, Knoet, gehad. Harald Kesja was Knoet se halfbroer. Erik het twee buite-egtelike seuns gehad: Eric II Emune en Benedict.[6]
Knoet was ’n gewilde prins. Hy is op 7 Januarie 1131 vermoor deur Erik se broerskind Magnus, die seun van koning Niels, wat Knoet beskou het as ’n moontlike mededinger om die troon. Knoet is dood ’n paar dae voor die geboorte van sy seun, Waldemar, wat van 1157 tot 1182 koning van Denemarke was.
Verwysings
Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:Eric I of Denmark
↑Dunham, Samuel (1839). The cabinet cyclopaedia: History of Denmark, Sweden, and Norway, Vol. 2. Longman, Orme, Brown, Green & Longmans and John Taylor.
↑Eiríkr, Magnússon; Morris, William (1905). The Saga Library, Vol. 6. B. Quaritch.
↑Vigfússon, Guðbrandur; York Powell, Frederick (1883). Corpus Poeticvm Boreale: The Poetry of the Old Northern Tongue, from the Earliest Times to the Thirteenth Century, Vol. 2. Clarendon Press.
↑Sifakis, Carl (1984). The Dictionary of Historic Nicknames. Facts on File Publications. ISBN0-87196-561-5.