Die Daugava-rivier (Belarussies: Дзвіна, Dzwina; Russies: Западная Двина, Sapadnaja Dwina; Duits: Düna) is die beduidendste rivier in die Baltiese lande met 'n lengte van 1 020 kilometer. Die Russiese naam Sapadnaja Dwina beteken letterlik "Westelike Dwina" ter onderskeiding van 'n rivier met dieselfde naam, die Noordelike Dwina.
Die Daugava vloei oor 'n lengte van 347 kilometer vanuit Krāslava tot by sy monding in die Oossee deur Letland en vorm hier ook die grens tussen die Suid-Letlandse landskappe Zemgale en Latgale (Letgallen) en die historiese Lyfland.
Geskiedenis
Die Daugava het vroeër deel uitgemaak van die handelspaaie na Bisantium (Konstantinopel). Nadat die rivier as waterweg minder beduidend geword het, is dit - veral gedurende die Sowjet-tydperk - vir watervoorsiening en hidroëlektriese kragopwekking gebruik. Tussen Riga en Daugavpils het 'n aantal damme en waterkragsentrales ontstaan.
Die rivierlandskap langs die Daugava is deur die Sowjet-owerhede ingrypend verander, en riviervalleie, waardeur die Daugava gekronkel het, is oorstroom en in 'n reeks groot damme omgeskep waarin beduidende ou nedersettings en watervalle onherroeplik verdwyn het. Die bouvalle van Middeleeusekastele, wat vroeër op bergspitse langs die rivier opgerig is, is tans op eilande geleë.
Die rivierloop word eers in Jēkabpils nouer. Stroomaf van die stad vloei die Daugava in nege kronkels deur 'n riviervallei. Perderitte langs die suidelike Daugava-oewer het intussen 'n gewilde toeriste-aktiwiteit geword.