Sir Charles Patrick John Coghlan (1863 – 1927) was 'n eerste minister van Suid-Rhodesië. Hy is gebore op 24 Junie 1863 in King William's Town. Sy vader, James Coghlan, het op Clocolan gewoon. Hy ontvang sy opleiding aan St. Aiden's College, Grahamstad, en kwalifiseer as 'n prokureur. Hy vestig hom in Kimberley waar hy 'n groot praktyk opbou. Hy doen diens in die Town Guard tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Hy verhuis na Rhodesië en begin 'n praktyk in Bulawayo. In 1908 word hy verkies tot die Wetgewende Raad. In dié jaar woon hy ook die Suid-Afrikaanse Nasionale Konvensie by. Toe Rhodesië nie by die unie aansluit nie konsentreer hy op selfregering. Nadat dit in 1923 toegeken is, word hy aangestel as eerste minister. Hy is 28 Augustus 1927 oorlede en is begrawe by World's View in die Matopos.
Bron